Menu Close

Die Drie Golwe van Charismatiese Christenskap / The Three Waves of Charismatic Christianity

     

Rev. Angus Stewart

Inleiding

Charismatiese Christenskap is een van die mees prominente godsdienstige bewegings van ons tyd. Volgens een skatting rakende hernuwingsbewegings, soos wat Pinkster, Charismate en Neo-Charismate gesamentlik genoem word, was daar omtrent 523,767,400 lede wêreldwyd – meer as ‘n half miljard mense.1

Met ander woorde, ongeveer een twaalfde van die wêreld se bevolking was in die jaar 2000 verbonde aan die Charismatiese beweging, hetsy as Pinkster, Charismaat, of Neo-Charismaat.

Charismatiese Christenskap word ook algemeen gereken om die mees vinniggroeiende sektor van Christenskap te wees. Hier het een kerkhistorikus Charismatiese Christenskap of hernuwing selfs die mees vinniggroeiende vorm van Christenskap ooit genoem.2

Verder, en miskien die mees ontstellendste, is dat daar ook ‘n veranderende persepsie van Charismatiese Christenskap en sy sienings onder baie Protestantse, Calvinistiese en Gereformeerde mense is.

Hierdie Protestantse, Calvinistiese en Gereformeerde gelowiges het die Charismatiese beweging vroeër ‘Holy Rollers‘ genoem wat op die rand van Christenskap bestaan het. Maar nou, in teenstelling, word hulle gesien as getroue broers en susters in Jesus Christus!

Baie sê byvoorbeeld, “Ja, ons het ons verskille met hulle, maar ons kan met Pinkster, Charismate en Neo-Charismate saamwerk, en ons het baie om van hulle te leer.” In hierdie artikel, handel ek met hierdie baie prominente en vinnig groeiende beweging wat vir baie hedendaagse gelowiges al hoe meer aanvaarbaar word.

So, wat is die kern van die Pinkster-, Charismatiese en Neo-Charismatiese bewegings? Die antwoord is, in hulle kern, lê die eienaardige leerstelling van die Heilige Gees. Hulle hou vol dat die bonatuurlike gawes van die Gees, soos om in tale te praat, wonderwerke te verrig, en voortdurende profesie, vir vandag is.

As gevolg hiervan, beweer hulle ook toenemend dat die Heilige Gees die ampte van profeet (en selfs superprofeet), en apostel (en selfs superapostel), herinstel. Deur hierdie middele, en ander, reken die beweging dat die Heilige Gees die individuele Charismatiese gelowige en herrnuwingskerke bemagtig om met groot blydskap en mag te aanbid en te evangeliseer.

Pinkster, Charismate en Neo-Charismate beklemtoon veral die ervaring van die Heilige Gees. Hulle beklemtoon dus ‘n bonatuurlike en buitengewone ervaring; ‘n ervaring wat groot vreugde, heerlike spontaniteit en vryheid voor God behels. Dis natuurlik wat vir baie mense in ons tyd baie aantreklik is.

Hierdie ervaring, meen die vernuweraar, is ware Nuwe-Testamentiese Christenskap. Dit is om terug te keer na die boek Handelinge en die apostoliese kerklike lewe. Verder hou Pinkster, Charismate en Neo-Charismate vol dat hul bewegings nie net die terugkeer na die apostoliese verlede is nie, maar ook die Christenskap van die toekoms is.

God doen iets nuuts op die aarde; Hy stuur vir ons ‘n heerlike eindtydse herlewing,” beweer hulle. “Ons is dinamies en doen wonderlike dinge vir die Here. Kyk na die grootte van ons beweging en sy groei in bietjie meer as ‘n eeu. Dit is die pad na die toekomstige sukses en seën vir die Christendom.

Kom ons kyk na die geskiedenis en oorsprong van Pentekostalisme en die Charismatiese beweging, na aanleiding van die algemeen aanvaarde drie golwe klassifikasie van C. Peter Wagner. 

      

1ste golf: Pentekostalisme

Pentekostalisme was die eerste golf van die Gees wat oor die kerk aangebreek het. In 1906 in Los Angeles, Kalifornië, het ‘n herlewing plaasgevind by die Azusa Street-bediening. Hierdie herlewing is gelei deur William J. Seymour, ‘n swart predikant wat in algehele heiligmaking geglo het.

Gedurende daardie herlewing het mense beweer dat hulle met die Heilige Gees gedoop is en in tale gepraat het. Hulle het gesê dat dit nog ‘n Pinksterdag was soos dié wat in Handelinge 2 opgeteken is.

Die kerkhistorikus Vinson Synan, wat ten gunste van die beweging is, beskryf die toneel:

A visitor to Azusa Street during the three and a half years the revival continued would have met scenes that beggared description. Men and women would shout, weep, dance, fall into trances, speak and sing in tongues, and interpret their messages into English … In the middle of it all was “Elder” Seymour, who rarely preached [!] and much of the time kept his head covered in an empty packing crate behind the pulpit. At times he would be seen walking through the crowds with five- and ten-dollar bills sticking out of his hip pockets that people had crammed there unnoticed by him. At other times he would “preach” by hurling challenges at anyone who did not accept his views or by encouraging seekers at the woodplank altars to “let the tongues come forth.” To others he would exclaim: “Be emphatic! Ask for salvation, [entire] sanctification, the baptism with the Holy Ghost, or divine healing.3

Watse chaos was dit nie! Mense wat dans, skree en sing in brabbeltaal, met Seymour, kop onder ‘n krat, agter die preekstoel, of stappend deur die opgewonde skare met vyf en tien dollar note wat uit sy heupsakke steek, of besig om Pinkster opdragte uit te skree.

Dit is nie die werk van die Heilige Gees nie (I Kor. 14:33, 40; II Tim. 1:7)! Vanaf Azusastraat het die Pinkster herlewing oor die Verenigde State en oor die hele wêreld versprei. Dit het gelei tot die vorming van afsonderlike Pinkster denominasies, soos die Assemblies of God.

       

2de Golf: Charismatisme

Sowat vyftig jaar ná die Azusastraat-herlewing het die tweede golf aangebreek: Charismatisme. Net soos Pentekostalisme, het Charismatisme in Kalifornië begin. Op ‘n Sondagoggend in 1959 het Dennis Bennett, ‘n Episkopale predikant, aan sy gemeente in Van Nuys, Kalifornië, aangekondig dat hy met die Heilige Gees gedoop is en in tale gepraat het.

Soos Pinkster gelowiges, glo Charismate in die doop met die Heilige Gees na bekering. Hierdie doop sal dan blyk uit gelowiges wat in tale praat. Maar, anders as die Pinkster beweging, is Charismate nie in aparte denominasies gedeel nie. So, mens kry Charismatiese Anglikane, Charismatiese Lutherane, Charismatiese Presbiteriane, Charismatiese Rooms-Katolieke, Charismatiese Metodiste, ens. En, net soos Pentekostalisme, het Charismatisme ook oor die hele wêreld versprei.

       

3de Golf: Neo-Charismatisme

Sowat twintig jaar ná Eerw. Dennis Bennett se donderslag, het die derde golf aangebreek: Neo-Charismatisme. Terwyl die eerste twee golwe ontstaan op die oewers van sonnige Kalifornië, is die derde golf bloot ‘n naam gegee in Kalifornië deur C. Peter Wagner van Fuller Theological Seminary in Pasadena in die vroeë 1980’s.

Soos Pinkster en Charismate, beoefen gelowiges in die derde golf, of Neo-Charismate die Pinkster- of Charismatiese gawes, maar anders as Pinkster en Charismate, glo Neo-Charismate dat die doop met die Heilige Gees nie nodig is na die nuwe geboorte om geestelike gawes uit te oefen nie.

Hulle sien ook nie die gawe van tale as die eerste fisiese bewys dat ‘n gelowige gedoop is met die Heilige Gees nie. Derde golf Charismate is ook geneig om minder opdringerig te wees en probeer om minder verdelend te wees in die beoefening van hul gawes.

      

Effek van die Drie Golwe

Hierdie golwe het net meer as ‘n eeu gelede begin met Pentekostalisme in 1906 en het voortgegaan met Charismatisme in 1959 en die ontploffing daarvan deur die 1960’s, wat gevolg is deur die derde golf van Neo-Charismatisme ‘n paar dekades later. Hierdie tsoenami’s het mense die afgelope honderd jaar rondgeslinger met valse leerstellings (Ef. 4:14). Gelukkig het hierdie drie golwe ons hoog en droog gelaat!

Binne die breë beweging van Pentekostalisme, Charismatisme en Neo-Charismatisme, ook bekend as hernuwing of Charismatiese Christenskap, is daar ook verskillende groepe, soos die Full Gospel Businessmen Fellowship International, die Spade Reën Sending en die Signs and Wonders Movement, wat meen dat, tensy jy wonderwerke verrig, jou evangelisasie pogings nie enige werklike krag het nie (contra Rom. 1:16-17; I Kor. 1:22-24).

Tydens die Toronto Blessing, wat in 1994 begin het, het mense agteruit geval en beweer dat dit as gevolg van die val in die Gees is. Meer onlangs het die Kanadees Todd Bentley van Fresh Fire Ministries in Florida beweer dat hy mense uit die dood opgewek het – een verslag het gesê dat hy al meer as twintig opgewek het terwyl ‘n ander verslag gesê het meer as dertig.4 Selfs in Noord Ierland het ‘n dissipel van Fresh Fire Ministries beweer dat hy ‘n jong man in die Tiger’s Bay -omgewing van Belfast uit die dood opgewek het.

‘n Eeu of meer van Charismatiese Christenskap het ons met baie onvergeetlike beelde gelaat wat begin het met die beweging se stigter met sy kop in ‘n krat en mense wat val in die Gees en ‘tapyttyd ‘doen. Sommige van ons onthou Rodney Howard-Browne wat lasterlik beweer dat hy die kroegman van die Heilige Gees is. En wie kan vergeet hoe Benny Hinn sy baadjie uittrek, dit deur die lig waai en blaas, sodat mense agteruit val? Moet ook nie vergeet van die brabbeltaal van mense wat in tale praat, diere geluide, onbeheerbare gelaggery, en verskeie ander bisarre manewales, beide op die verhoog en in die skare nie.

Op ‘n hartseer noot is daar die foto’s van siek en gestremde mense wat ná nog ‘n groot Charismatiese vergadering weer huis toe gaan sonder dat hulle genees is. Baie van ons ken ook mense, insluitend familielede, wat vasgevang en deurmekaar gemaak is deur die Charismatiese beweging. Sommige het jare geneem om te herstel, terwyl ander nog nooit daaroor gekom het nie.

Gelowiges, kom ons stap die “ou pad” van Bybelse, Gereformeerde en geloofsbelydenis gebaseerde Christenskap. Dit is die goeie pad tot eer van die Drie-enige God wat in Jesus Christus geopenbaar is. In verbond met ons Vader en deur sy Heilige Gees vind ons en ons kinders rus vir ons siele (Jer. 6:16).

1 Stanley M. Burgess (ed.) and Eduard M. van der Maas (assoc. ed.), The New International Dictionary of Pentecostal and Charismatic Movements (Grand Rapids, MI: Zondervan, rev. 2002), p. 301.
2 Stephen Tomkins, John Wesley: A Biography (Grand Rapids, MI: Eerdmans, 2003), p. 199.
3 Vinson Synan, The Holiness-Pentecostal Tradition (Grand Rapids, MI: Eerdmans, rev. 1997), pp. 98-99.
4 Ander het uitgewys dat nie ‘n enkele geval geverifiëer kon word nie.

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.

Show Buttons
Hide Buttons