Deur Ds. Angus Stewart
“o God, u weg is in heiligheid. Wie is ʼn groot God soos God?” (Ps. 77:14)
Die openingsdeel van Psalm 77 beskryf ‘n swaar lydende Asaf. Wat is dit wat hom kwel? Is dit ‘n gevreesde siekte of swaar sonde? Is dit die aanslae van die vyande van God of die lastering van sy Naam of die agteruitgang van die kerk?
Wanneer jy die Psalm lees, sien jy dat dit nie vir ons gesê word nie. Die Psalmis gebruik bloot woorde soos “benoudheid” en “versmag”, maar sê niks van die oorsprong van sy nood nie. Dit mog ietwat teleurstellend wees dat die aard van Asaf se ellende nie geopenbaar word nie, maar dit hoef nie te wees nie. As ons hemelse Vader ons dit nie sê nie, hoef ons nie te weet nie. Dit is juis die punt: wat ook al óns beproewing is, kan ons ons met die Psalmis vereenselwig en ons in sy plek plaas.
Wat is die eerste ding wat Asaf in sy nood doen? Hy bid — die regte ding om te doen! “Op die dag van my benoudheid soek ek die HERE” (3). Hierby sê vers 2 “My stem is tot God en ek roep; my stem is tot God.” Die woord “stem” word twee maal gebruik om te beklemtoon dat hierdie nie ‘n stil gebed was nie; Asaf se uitgesproke, vurige pleidooie word hardop tot God uitgeroep.
Wat was die uitkoms van hierdie vurige gebede? Asaf sê “… my siel weier om getroos te word” (3). Hy kry nie troos nie. Hy ervaar geen vertroosting in hart of siel nie. Het jy dit al beleef, geliefde? Geen troos nie! Selfs na baie en ernstige gebede, geen troos nie! Nadat ek die Here gesoek het — steeds in nood, steeds verslae en steeds vol sieleleed! Dit skep vir die gelowige nóg ‘n probleem: “Wat is verkeerd met my gebede? Waarom hoor God nie? Gee Hy nie om nie?
Daarmee kom ons by die volgende ding wat Asaf probeer doen: Hy dink aan God. Die Psalmis dink dat dit verligting sal bring, en dit sal, as dit reg gedoen word met die regte ingesteldheid en op die tyd wat God behaag. Maar wat gebeur hier? “As ek aan God dink, moet ek steun; peins ek, dan versmag my gees” (4). Asaf dink na, mymer en peins oor God, oor God se wese, sy heerskappy oor alle dinge, sy voorneme en sy weë.
Die resultaat? Asaf moet “steun” (4) en word nog meer benoud. Sy toestand versleg! Sy “gees versmag” (4), sodat hy selfs meer verbrysel en verbyster word. Waarom is dit so? Eers was hy ontsteld en bekommerd oor sy aanvanklike nood. Toe was hy moeg en onvergenoegd omdat sy ‘naggebede’ geen troos gebring het nie (3). Nou koester hy harde gedagtes oor God en ook bitterheid teenoor die Almagtige. Onder sulke omstandighede word sy bepeinsing oor God al te maklik deur die Satan op dwaalweë gelei en bring dit nie verligting nie, maar net meer benoudheid, sodat die Psalmis versmag. Het jy al so gevoel? Jou gemoed is onstuimig. Jou gedagtes dwaal in sirkels. Dit lyk asof daar geen uitweg is nie. Jou gees versmag.
Sou Asaf dalk deur slaap verligting kon kry? Jy weet hoe dit soms gaan. Jy is omgekrap want dinge loop nie reg nie, maar na ‘n goeie nag se slaap lyk dinge sommer beter. Nadat ons oorspanne was, herstel die rus ons tot nugterheid en weldenke; maar arme Asaf moet helaas uitroep: “U hou my ooglede oop; ek is onrustig” (5). Die ooglede is die wagters of oppassers van ons oë. Hulle beskerm ons oë (en ons hele liggaam) deur elke nag toe te maak om ons slaap te gee. Vir Asaf was daar ewenwel geen slaap nie, geen rus vir sy moeë liggaam en geen kalmte vir sy oorspanne gemoed nie. En dis God wat dit doen! In sy voorsienigheid wat absoluut oor alle dinge regeer, wou God hom nie toelaat om te slaap nie. Asaf was só benoud, geteister deur folterende gedagtes, dat hy nie aan die slaap kon raak nie. En hy het geweet dat ook dít die soewereine bestier van God is!
Hierdie uitputting en geestelike spanning het dinge erger gemaak. Asaf kla, “ek is onrustig en kan nie spreek nie” (5). Soms is ons uitputting so erg dat dit te veel moeite is om te praat. Miskien bedoel Asaf dat hy so benoud is dat hy nie met ander mense wil praat nie.
In sy desperaatheid probeer die Psalmis homself troos deur oor die kerk van vroeër te dink: “Ek dink oor die dae van die voortyd, oor die ou, ou jare” (6). Hy peins oor die geskiedenis van die kerk: Israel, die aartsvaders, die mense van voor die vloed. Hy dink ver terug om wysheid uit die verlede te vind, maar hy vind geen troos nie.
Dan dink Asaf aan die beter dae in sy eie verlede. “Miskien” dink hy “sal dít my opbeur.” “Ek wil dink aan my snarespel in die nag” (7), daardie vreugdevolle tye met die Here, toe hy gaan slaap het terwyl hy die lof van die Here met blydskap en vreugde besing. Op sigself is dit ‘n goeie ding om in tyd van nood te doen, soos baie ander dinge wat Asaf probeer het; maar dan moet dit nie met ‘n klaende gees of met ‘n gemor of uit selfbejammering gedoen word nie (Pred. 7:10).
Vervolgens doen Asaf selfondersoek: “Ek . . . wil peins met my hart, en my gees deurvors” (Ps. 77:7). By Asaf se bepeinsing en vrae is daar ewenwel ook sprake van twyfel aan God: “Sal die Here vir altyd verstoot en verder nie meer goedgunstig wees nie? Hou sy goedertierenheid vir altyd op? Is dit met die belofte gedaan van geslag tot geslag? Het God vergeet om genadig te wees? Of het Hy in toorn sy barmhartighede toegesluit?” (8-10). Sien u die gemors waarin die Psalmis homself beland het? Hy bevraagteken nou die guns van God (8), sy goedertierenheid (9), genade en barmhartigheid (10) en só dan ook sy verbondsbeloftes (9) — Asaf voel “verstoot” (8).
Tog is Asaf nie heeltemal sonder geloof nie. Die kind van God verloor nooit heeltemal sy geloof nie. Hy mag vandag verstote voel, nie die barmhartigheid van God se verbond voel nie, maar die Here bring altyd al sy kinders, seuns en dogters, weer terug.
Ons is op gevaarlike terrein as ons die goedgunstige goedertierenheid van God bevraagteken, want in die genade en die belofte in Jesus Christus is al ons heil. Om onsself (volkome en finaal) daarvan af te sluit, is ewige rampsaligheid. Sien u hoe ver die Psalmis sedert sy eerste probleme gekom het? Ons lees in een van Asaf se vroeëre Psalms, “Maar wat my aangaan, my voete het amper gestruikel, my voetstappe het byna uitgegly” (73:2). “Amper gestruikel” — amper, maar nie heeltemal nie!
Daardie “amper” (maar nie heeltemal nie) is ‘n getuienis van Jehova se bewaring van sy heiliges, sodat die kind van God soms net met die huid van sy tande volhard. Glo die beloftes van God in Jesus Christus! Moenie toegee aan jou twyfel en vrese en bekommernisse en selfbejammering nie! Moet jou nie op daardie afdraande pad begewe nie, geliefde!
(Vertaal deur Nic Grobler, Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/53.)