Ds. Angus Stewart
“o God, u weg is in heiligheid. Wie is ʼn groot God soos God?” (Ps. 77:14)
In die vorige uitgawe van die News het ons aandag gegee aan die swaar beproewing wat Asaf oorweldig het (Psalm 77:3-10). Ons sal nou sien hoe God hom deur sy genade herstel het. “Toe het ek gesê” – Asaf kom tot ‘n besef wat hy in woorde wil uitdruk – “Dit is my grootste bekommernis” (11). “Al my probleme (2-9) én my twyfelende vrae (8-10),” besef Asaf nou, “bring my niks anders as pyn en droefheid nie. Ek moet ophou daarmee.” “Ek moet dink aan die regterhand van die Allerhoogste, die dade van die HERE en sy wonders uit die voortyd; en al sy werk oordink, en peins oor sy dade.” (11-13). Dít is waaroor ek moet dink! Nie om te tob en vir myself jammer te voel nie! Nie om myself te pynig en myself slegter te laat voel en te bejammer omdat ek my smart vergelyk met my vroeëre vreugde en dan verder in my droefheid te gaan lê nie. Só word die geloof wakker in die gelowige wat dink aan die wonderdade van die regterhand van die Almagtige. “Hy het sy kerk vroeër gered! Hy sal dit ook vir my doen!”
Let op die gelowige besluit van Asaf: “Ek moet dink aan die regterhand van die Allerhoogste, die dade van die HERE en sy wonders uit die voortyd; en al sy werk oordink, en peins oor sy dade.” Die belofte van Asaf is dat hy sal “dink” (onthou), “oordink” en “peins,” letterlik met homself praat van die werke en wonders van God en sy magtige dade, en só sy siel met goeie gedagtes vul. Net so moet ons ook dink en praat van die groot reddingsdaad van God en van die wysheid van sy voorsienigheid, in plaas daarvan om in selfbejammering te sit en tob. Die apostel Paulus het ons geleer, “alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit” (Filippense 4:8). Só sal “die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, … julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus (7). As jy voel jy loop die wanhopige pad van Asaf, reik dan na die waarheid van Filippense 4 en die lesse van Psalm 77!
Dit is waar die “heiligheid” in ons opskrif te pas kom. Die woord “heiligheid” kan ook vertaal word as “heilige plek” of “heiligdom” soos in die King James Vertaling en ook deur Calvyn in hierdie teks. Die heiligdom, of tempel, is die betekening van die heilige woonplek van God in die hemel. Die Drie-enige God is in Homself en sy voorsienige regering en in al sy werke in ons, gesamentlik en afsonderlik, geheilig.
Ons mag daarom nie oor sy handeling met ons kla nie. Dit is altyd ter wille van sy eer en vir ons ten goede (Romeine 8:28), al sien ons dit nie raak nie. Òns probleem is dat ons so vooropgesteld is met ons eie selfsugtige belange en aardse plesier dat ons in ons dwaasheid dink dat God in die eerste plek ook oor hierdie dinge besorg moet wees, en dat sy rol is om ons gunstige winde en ‘n rustige vaart te laat belewe, sodat ons goed kan voel. Wanneer dit nie gebeur nie brom en kla ons asof Hy ons ‘n onreg aandoen. Maar die Skrif leer dat ons “heiligmaking” “die wil van God” is (1 Thessalonicense 4:3), en nie ons selfbeeld, gesondheid, rykdom of plesier nie.
Job was baie meer God-gesentreerd as ons, maar selfs hy het onder sy baie moeilike omstandighede aan die goedheid van die Almagtige begin twyfel, en gemor oor sy Maker. Maar nadat God in sy majesteit verskyn het en maar net ‘n weinig van Sy wysheid gespreek het, het Job gesê: “Daarom herroep ek en het berou in stof en as” (Job 42:6).
Asaf het goed geweet dat die ark van die verbond die middelpunt, die hart, van die tempel was. In die ark was die twee tafels van die wet, wat ons sonde openbaar. Bo-op die ark was die versoendeksel waarop bloed gesprenkel is, wat na die kruis van ons Verlosser heen gewys het. Van die versoendeksel van die ark het Jehovah gespreek van die wet en van genade, van geregtigheid en genade in Jesus Christus deur die gemeenskap van sy verbond.
Dit is daarom geen wonder nie dat die weg van God “in heiligheid” is, en daarom alleen verstaan word deur hulle wat in sy heiligdom is. In die Nuwe Testamentiese tyd woon God deur die Gees van Christus in sy heilige kerk. Diegene wat hulle openbare diens aan Hom lief het, berus en verheug hulle in die pad wat Jehovah met hulle loop. Maar as jy nie deel neem aan ‘n getroue kerk nie, sal jy nie die weg van God in jou lewe verstaan nie en só onmin oor jouself bring. Dit is iets om aan te dink wanneer jy oorweeg om ‘n erediens oor te slaan!
In die prediking word die heilige evangelie van Christus verkondig, die boodskap van die Een wat “die weg en die waarheid en die lewe” is (Johannes 14:6). As jy nie op die getroue prediking ag slaan nie of dit verwaarloos, gaan jy sukkel met Jehovah se pad vir jou lewe.
Ons Vader het aan ons sy geïnspireerde Woord gegee, die 66 boeke van die Bybel. Die Skrifte moet persoonlik en by huisgodsdiens gelees word. Só, moet ons elkeen erken, sal “U woord… ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad” wees (Psalm 119:105). As jy Bybellees nalaat, kan jy pyn en benoudheid te wagte wees.
Jy kan dus nie ‘n goddelose lewe lei en in God se handel met jou berus nie. Selfs op die pad van gehoorsaamheid sal die gelowige nie altyd verstaan waarom dinge só gebeur nie, maar ons troos is dat ons hemelse Vader alles vir ons ten goede laat meewerk.
In Psalms 73 en 77 het Asaf twee dinge in die heiligdomme van God verstaan. Eerstens, in die negatief, daar is nie algemene genade nie (73:17-18), en tweedens, positief, Gods’ heilige weg met sy uitverkorenes is altyd genadig (77:14-16). Hierdie twee lesse word net in die heiligdom geleer, en nie in die wêreld, die valse kerk of in jou eie sondige hart nie.
In die heiligdom bely ons met lof, verwondering en vreugde: “Wie is ‘n groot God soos God?” (14). Waarom word Hy hier “groot” genoem, en nie goed, of regverdig of wys nie? Omdat, in sy ongeloof, Asaf se god te klein was! Dit is dikwels ook ons probleem, wanneer ons in ons dwaasheid dink dat ons eindeloos grote God kleiner is as ons probleme! Die onvergelyklike “groot” Jehovah bepaal ons hele lewe, en elkeen van ons probleme; Hy lei ons deur alles heen en bring ons na die ander kant om ons te heilig en Homself te verheerlik. Dít is wat Asaf deur sy kommer heen geleer het: “o God, u weg is in heiligheid. Wie is ‘n groot God soos God?” (14).
Vertaal deur Nic Grobler. Die Bybelvertaling wat gebruik is, is die AOV van 1933/53.)