Ds. Angus Stewart
In die laaste twee uitgawes van die News het ons Asaf in Psalm 77 deur sy twyfel en kwellinge, sy slapelose nagte en troostelose dae, totdat hy geestelik tot sy sinne gekom het.Vers 11 is die draaipunt: “Toe het ek gesê: Dit is my grootste bekommernis dat die regterhand van die Allerhoogste verander!” Vers 14 is sy groot belydenis: “o God, u weg is in heiligheid. Wie is ʼn groot God soos God?” Dit maak nie saak wát Asaf vroeër in onkunde mog gedink het nie, God se weg met hom was heilig en vlekkeloos. Ook met ons is die weg van God in die heiligdom, waar Hy in Jesus Christus met ons woon. Rus en ervaar die vrede!
Ons kom nou in Psalm 77 by ‘n ander, soortgelyke, belydenis van Asaf: “U weg was in die see en u paaie in groot waters, en u spore was nie te beken nie” (20). Die weg van God is dus in “heiligheid” én “in die see” (20). God se weg, in altwee verse, is sy handelinge in sy voorsienigheid in ons lewe.
In die laaste deel van Psalm 77 oorwin Asaf se geloof. Verse 12-21 is vol van die onvergelykbare wonder van ons God. Wég is die neerlaag van selfbejammering in die openingsgedeelte. Asaf het nou vertroue in Jehova en sy weë.
Ons moet dít ook begryp om die weë van God met die mens, en sy weë met jou, met jou familie en met die kerk te kan verstaan. Oor Gods “weg,” sy “paaie” en sy “spore” —al drie woorde beteken wesenlik dieselfde—word gesê dat hulle “in die see,” “in groot waters,” en (sonder die metafoor) “nie te beken” (onkenbaar) is.
Dink aan jou voetspore op die strand. Die gety kom in. Wanneer jy omdraai en terugloop, sien jy hoe die golwe oor jou spore spoel en dit uitwis. Jou spore is weg.
Ons teks sê iets groter. Nie net kon die voetspore gesien word voor die water dit oorspoel het nie, God se voetspore, toe hulle gemaak is, was reeds onder die water. Sodra Hy sy voet optel, wis die water sy spoor uit, sodat ons dit nie kan sien nie. Selfs al was die spoor dáár onder, sou ons dit weens die diepte van die water, nie kon sien nie. Ons kyk nie hier in ‘n poeletjie nie. Ons praat van “die see” en “groot waters.” Vers 20 sê tereg, “u spore was nie te beken nie,” want hulle verdwyn in die beweging van die water en is baie vadems diep op die bodem van die see. Dit is ‘n Bybelse beeld van god se weg met ons in ons lewe.
Ons sien dit telkens weer in die Psalms. “Waarom?” en “Hoe lank nog?” is twee aandoenlike vrae wat telkens aan die Allerhoogste gevra word. Geen wonder nie! Want “U weg was in die see en u paaie in groot waters, en u spore was nie te beken nie” (20)!
In Psalm 77 is Asaf radeloos, oorkom en sonder troos (2-7). In sy nood vra hy: “Sal die Here vir altyd verstoot en verder nie meer goedgunstig wees nie? Hou sy goedertierenheid vir altyd op? Is dit met die belofte gedaan van geslag tot geslag? Het God vergeet om genadig te wees? Of het Hy in toorn sy barmhartighede toegesluit?” (8-10). Hy ervaar die waarheid dat God se “weë in die see” is (20) op ‘n pynlike manier.
Die lewe van Josef is ook ‘n goeie voorbeeld hiervan. Sy jaloerse broers het hom in Dotan in ‘n put gegooi—”U weg was in die see”! Hy is deur Ismaelitiese handelaars van die beloofde land weggevoer—”u paaie in groot waters”! Hy is in Egipte in boeie en ysters geknel (Ps. 105:18)—” en u spore was nie te beken nie”! Maar God het dit alles ten goede beskik (Gen. 45:5, 7; 50:20), om, soos hulle almal jare eers gesien het, die familie van Israel aan die komende hongersnood te laat ontkom.
Dink aan “die lydsaamheid van Job” (Jak. 5:11). Hy verloor al tien sy kinders, al sy vee, sy goeie naam sy vriende en sy gesondheid op een slag. Wat op aarde is aan die gang? Wat in die hemel is aan die gang? God se weë is in die see! Hoewel Job later geregverdig is en ryklik beloon is, het hy nie van die duiwel se streke in die hemel geweet nie (en kon ook nie op aarde daarvan weet nie).
Petrus kon ook nie verstaan waarom Christus gedood moes word nie: “Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie!” (Matt. 16:22). Hy kon nie toe die weë van God sien nie, omdat hy “nie die dinge van God bedink [het] nie, maar die dinge van die mense” (23). Nie voor die opstanding van die Here kon enigeen van die dissipels die spore van God in die spykermerke aan die hande van Christus sien nie.
Daar is baie dinge wat ons vandag laat vra “Waarom?”: die geboorte van ‘n erg gestremde kind, ‘n kinderlose Christelike egpaar, die dood van ‘n jongmens, die verlies aan gesondheid van jou eggenoot of familielid of mense van wie jy groot verwagtinge het wat by die kerk aansluit, maar onverklaarbaar weer vertrek. Ons moet in die waarheid van God se verborge, maar goeie, voorsienigheid glo. Tensy ons dit verstaan, gaan ons moed verloor en onder die druk van God se “weë in die see” en sy spore, “nie te beken nie,” swig.
Waarom is God se weë in die diepte van die see verborge? Dit gaan terug na die ewige raad van God. Ons ken nie sy raadsplan, sy oogmerke en sy manier, nie en ons weet nie hoé ons daarin pas nie. Ons weet nie wat Hy in en met ons lewe sal doen nie.
Christus alleen, op die hemelse troon, ken die ewige raadsplan van God. Vir ons is dit ‘n verseëlde boek waarvan die inhoud nie aan ons meegedeel is nie (Openb. 5:1-7). Ons sien maar (‘n klein deeltjie) van die uitvoering van die raadsplan van God. Alles gebeur immers in die uitvoering van sy ewige raadsplan, maar ons begryp dinge nie in hulle werklike verhoudings en samehang nie. Ons ken nie die toekoms nie, nie eers wat more, of oor ‘n minuut gaan gebeur nie. Die “weë van God is in die see” en sy “spore is nie te beken nie.” Dit is só noodsaaklik dat ons dit sal erken, bely en onthou, veral in moeilike tye.
(Vertaal deur Nic Grobler, Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/53.)