Ds. Angus Stewart
Gods weg met die gelowige en die kerk is “in die see”(Ps. 77:20) omdat ons nie die weë van sy ewige raad ken nie. Die onverstaanbaarheid van God se raad is in sigself ‘n teken van die onbegryplikheid van God self. Sy weë is hoër as ons weë (Jes. 55:9) want ons kan die dieptes van God nie peil of tot sy volmaaktheid deurdring nie (Job 11;70). Volle kennis van die raad van God is so onkenbaar soos God self. Daarom prys die apostel die rykdomme van God: “o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!” (Rom. 11:33), “want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen” (vs. 36).
Asof die klein, selfgenoegsame mens, met sy vals beskouings van sy eie wysheid en belangrikheid die weë van God sou kan ken! Die Almagtige kan nie deur die sprinkane en wurms van die aarde in die beskuldigdebank geplaas word om vir sy dade verantwoording te doen nie!
Hierdie belangrike onderskeid tussen die almagtige Skepper en die onvermoënde skepsel beteken dat die weë van God ook vir Satan in die see is. In formele sin weet hy meer van die weë van God as ons, omdat hy ouer én slimmer is as ons, maar hy bly steeds maar net ‘n skepsel. Selfs die heilige engele ken nie die weë van God ten volle nie. Hoewel hulle in die hemel woon, leer Mígael, Gabriel en die hemelse leërskare uit Jehova se handelinge met sy kerk (Efes. 3:10; 1 Pet. 1:12), want hulle bestaan is onderhewig aan die bevel van God, hulle is nie self bevelgewers nie.
Dit is daarom geen wonder nie dat ons dikwels nie die plan van God sien of weet of waarom Hy doen wat Hy besig is om te doen nie. Soms verstaan ons by nabetragting. In die hemel sal ons baie beter verstaan. Vir die hede gee die Bybel vir ons die breë buitelyne van die werk van God met sy kerk in Jesus Christus op aarde. Ons het één Bybelse beginsel waarmee ons die handelinge van God met ons moet verstaan: God se weg is die see! Die Skrif is duidelik, maar besonderhede van gebeure in die raadsplan van Jehova nie altyd nie.
Dit beteken nie dat ons in wanhoop moet verval nie. Elia het gekla, “die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het, en hulle soek my lewe om dit weg te neem” (1 Kon. 19:10). Elia wou uit die profete-amp bedank, maar die Here het hom van die oorblyfsel van 7 000 in Israel vertel (vs. 18). God se weë is in die see!
Jakob het teenoor nege van sy seuns gekla: “Josef is weg! En Símeon is weg! En Benjamin wil julle wegneem! Alles is teen my!” (Gen. 42:36). Die aartsvader se geloof was swak, want “as God vír ons is, wie kan teen ons wees?” (Rom. 8:31) en God het dit ten goede gedink om só te doen (Gen. 50:20).
Onthou u die nood van Asaf?. “Het God vergeet om genadig te wees? Of het Hy in toorn sy barmhartighede toegesluit?” (Ps. 77:10). Moenie moed verloor nie, geliefdes. Die weë van God is in die see. U weet nie wat goed is nie. God is aan die werk. Moenie die Almagtige probeer vooruitloop nie!
Ons roeping is om in alle omstandighede (veral in moeilike omstandighede) op Hom te vertrou (Ps. 37:3-5; 46:1-3). Ons kan daarop vertrou dat Hy sy goedheid, sy wysheid, sy trou en sy verbondsgenade tot sy eer en sy heerlikheid, ons ten goede, sal laat werk.
Moenie na mistieke aanvoelings en sondige ingewings gryp wanneer jy leiding en bystand in moeilike situasies soek nie. Onthou jou roeping, die plek waarin God jou geplaas het. Pas die tien gebooie, die samevatting van sy wil vir jou lewe, toe. “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid” (Matt. 6:33).
Die waarheid van God se weg in die see is dat dit ‘m onbekende pad is (Ps. 77:20) én dat dit ‘n versoenende pad is, soos dit uit die konteks duidelik is (vs. 15-17, 21). ‘n Weg van versoening beteken nie dat óns werke en óns moeite ons verlos, asof ons die prys vir die verlossing uit die sonde betaal het nie. Inteendeel skenk God dié versoening in Jesus Christus, deur die geloof tydens ons stryd.
God se weg met ons is bedoel vir, en lei na, ons heiligmaking. Hy bring ons meer en meer uit die gevangenisskap van die sonde. Asaf is deur sy beproewing gebring tot heilige bepeinsing en oordenking (vs. 10b-12); gebring en herstel tot lof aan God alleen (vs. 13). Dit is ook die doel van Jehova in óns lewe. As ons dit onthou, is die stryd halfpad gewonne.
Wanneer ons moeilike tye beleef, moet ons nie dink “maar ek is ‘n goeie mens, ek verdien dit nie!” Onthou: “Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie” (Rom. 3:12). Al wat ons uit onsself verdien is die hel. Ons aarde stryd is, deur die genade van God, nie straf nie, maar ‘n toets en beproewing om ons te reinig.
Net soos Israel deur die Rooi See moes gaan om by die beloofde land te kom, só moet ons ook hierdie onbekende, heiligmakende pad as die enigste pad tot die heerlikheid bewandel—U weg is in die see! God lei sy volk (Ps. 77:21) deur die see na die saligheid van die hemel in die kerk. Israel het tesame deur die woestyn getrek. Dit is die pad—God se pad—waarmee Hy sy volk op die regte pad hou.
God lei sy volk met getroue voorgangers deur die kerk, deur die see, na die saligheid van die hemel. “U het u volk soos skape gelei deur die hand van Moses en Aäron” (Ps. 77:21). Hierdie twee Ou Testamentiese ampsdraers is die hedendaagse ampte tot ‘n voorbeeld. Ons moet die leer en voorbeeld volg van getroue ampsdraers wat ons op die weg van God deur die see lei (Heb. 13:7, 17, 24). Deur die prediking van sy Woord en Bybelse leiding deur kerklike opsieners, bring ons hemelse Vader aan ons die verlossing en lei Hy ons na die heerlikheid.
Die waarheid dat die weë van God in die see is, geld ook vir die goddeloses. Farao het dit nie verstaan nie en het gedink dat hy ook deur die Rooi see kon trek, maar Farao se pad in die see was ‘n ander pad. Net soos die Egiptenare in die Rooi See vernietig is, so word die verworpe goddelose mense en engele deur die kruis van Christus vernietig.
(Vertaal deur Nic Grobler, Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/53.)