Menu Close

Die Wit en die Rooi Perde / The White and Red Horses

   

Ds. A. Stewart

Die vier perderuiters in Openbaring 6:1-8 is ‘n eenheid in die sewe seëls. Anders as die ander drie handel die eerste vier seëls met perde. Elke perd het ‘n bepaalde kleur: wit, rooi, swart of vaal. Elke perd het ‘n ruiter en elke ruiter het ‘n wapen of ‘n werktuig. Die eerste had ‘n boog, die tweede ‘n groot swaard en die derde ‘n skaal in sy hand Met betrekking tot die vierde perd was dit ietwat anders: “hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg”(8).

Anders as die ander drie, is die eerste vier seëls elk met sy ruiter ingelui met ‘n “lewende wese” met die woorde “Kom kyk!” (1, 3, 5, 7). Luister ons na die hoefslae van die wit, rooi, swart en vaal perde wat deur die Lam uitgestuur is, hoor ons vier verskillende hoefslae.

Waarom perde met hulle ruiters? Hulle word in die Skrif gebruik om te spreek van die magtige en misterieuse voorsienigheid van God, soos in Sagaria 1 en 6. Perde is diere met indrukwekkende krag en dapperheid. Daarom vra die Here vir Job, “Gee jy aan die perd sterkte? Beklee jy sy nek met maanhare? Laat jy hom spring soos die sprinkaan? Sy trotse gesnuif is ‘n verskrikking” (Job 39:22-23).

Waarom is daar ruiters op die perde van Openbaring 6:1-8? Ruiterlose perde gaan waar hulle wil want hulle krag is nie beteuel nie. Maar ‘n perd met ‘n ruiter word beheer en gestuur – ‘n gepaste beeld van die magtige en diepgaande voorsienigheid van Jehovah.

Laat ons nou na elkeen van die perde op sy eie kyk, beginnende met die wit perd (1-2). Daar bestaan waarskynlik die meeste verskille met betrekking tot die identiteit van hierdie perd en sy ruiter. Sommige sê dit gaan oor die verlede, ‘n Romeinse generaal met die val van Jerusalem in 70 AD of oor Konstantyn die Grote in die vierde eeu. Vir ander skets die eerste seël die finale, verskriklike Antichris van die toekoms. Ons glo dat die wit perd na die uitbreiding van die evangelie van Jesus Christus verwys, en dus gaan oor verlede, hede en toekoms.

“Wit” is simbolies van geregtigheid en heiligheid, wat net deur die evangelie van genade alleen kom. Openbaring 6:2 dra die geur van oorwinning. Die wit kleur van die perd dui daarop, net soos die “kroon” en die oorwinnaars-beloning wat aan die ruiter gegee is. Dit word egter in besonder beklemtoon deurdat hy uitgaan “as ‘n oorwinnaar en om te oorwin”. Net die evangelie van Christus bring ‘n oorwinnende geregtigheid en heiligheid met niks anders nie as oorwinning en geen nederlaag nie.

Die wit perd ry dwarsdeur die Nuwe Testamentiese tyd, vanaf Pinkster tot die heerlike wederkoms van ons Here (Matt. 24:14; Rom. 10:13-18). Dit is en sal oorwinnend in harte en lewens van die uitverkorenes van God wees, en die evangelie sal nooit verydel word nie (Rom. 1:16-17; I Kor. 1:17-21; II Kor. 2:14-16).

Wat van die “boog” in die hand van die ruiter op die wit perd (Openb. 6:2)? Dink daaraan as jy hierdie woorde aan die oorwinnende Messias gerig, lees: “Gord u swaard aan die heup, o held, u majesteit en u heerlikheid; ja, u heerlikheid! Ry voorspoedig ter wille van waarheid en ootmoed en geregtigheid; en laat u regterhand U vreeslike dinge leer! U pyle is skerp (volke val onder U!); hulle tref in die hart van die Koning se vyande.” (Ps. 45:4-6).

Die boek Handelinge beskryf die reis van die wit perd vanaf Jerusalem na Judea, Samaria, Antiochië, Turkye en Griekeland (hulle moderne name) en Rome. Die eerste seël gaan oor die verspreiding van die evangelie in die Midde Ooste, Suid Europa en Noord Afrika in die eerste paar eeue na Pinkster. Daarna draai die wit perd na die noordelike lande oorkant die Alpe. In die laaste eeue het die wit perd na al die kontinente gegalop, ‘n menigte lande en duisende eilande. Die ruiter op die wit perd het, soos Openbaring 6:2 sê: “uitgegaan as ‘n oorwinnaar en om te oorwin.”

Dit duur nou reeds vir nie minder nie as 2000 jaar met prediking, katkisering en lesings en so ook die opleiding van predikante. Pyle word deur die evangelie-boog geskiet deur Bybel studie; Christelike CDs, DVDs, boeke, pamflette, radio uitsendings en Gereformeerde webblaaie. Dit gaan natuurlik gepaard met erediens, gebed, gemeenskap, barmhartigheid en getuienis van die gelowiges. Die wit perd ry in gevestigde gemeentes en sendingvelde sodat die uitverkorenes uit die vier hoeke van die aarde versamel word as die een, heilige, apostoliese en katolieke of algemene kerk van Christus.

Die rooi perd verteenwoordig oorlog (Openb. 6:3-4). Die ruiter dra ‘n “groot swaard,” ‘n oorlogswapen. Aan hom is mag gegee “om die vrede van die aarde af weg te neem”, die resultaat van oorlog. Die “rooi” kleur van die perd stel die bloed wat in die oorlog vloei, voor. Die bloedbad is nie vervolging nie, want die doodslag is tweesydig (die een van die ander), die dodelike resultaat van oorlog.

Dink net aan die verskeie oorloë oor die afgelope twee millennia, die barbaarse invalle deur die Romeinse Keiserryk en Attila die Hun, die Magjaarse en Viking aanvalle in Oos en Noord Europa, die Normandiese inval van Brittanje, die Kruistogte teen die Sarasene, die Honderdjarige Oorlog en die Oorlog van die Rose; die eerste en tweede Wêreldoorloë, die Koreaanse Oorlog, die Viëtnamese Oorlog, die Falklandse Oorlog en die Irakse Oorlog. Daar was natuurlik baie ander oorloë dwarsoor die wêreld. Daar is ook verskillende soorte konflik: burgeroorloë, revolusies, imperialistiese stryd ens.

Die reis van die rooi perd behels militêre opleiding, bewapening en uniforms; propaganda, militêre diensplig en leërs; generaals, spioene en oorlog gevangenes; helde, lafaards en verraaiers; logistiek, medaljes en begraafplase; diplomasie, skietstakings en verdrae; gerugte van oorloë, onderbroke oorloë en koue oorloë; nasionalisme en internasionalisme; verwoesting en bloedbaddens; oorlogsgode en oorlog ekonomie. Soos die wit perd is die rooi perd uitgestuur en altyd onder die beheer van die gekruisigde en opgestane Lam van God!

(Vertaal deur Nic Grobler Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.

Show Buttons
Hide Buttons