Ds. Angus Stewart
ʼn Leser vra of die Arminiaanse en Amiraldiaanse leerstuk van universele versoening geleer word in Johannes 2:2: “En Hy is ʼn versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.”
Daar is twee eenvoudige argumente uit die konteks wat bewys dat die verwysing in 1 Johannes 2:2 na die “hele wêreld” nie na absoluut almal, insluitend die verworpenes, kan verwys nie.
Eerstens verwys die woord “versoening” (2:2) na die afweer van die toorn van God omdat dit deur die plaasvervanger, Christus, gedra is. As die Here Jesus werklik die toorn van God vir almal gedra het, dan sal niemand hel toe gaan nie, want hulle straf is reeds deur Hom gedra. Maar die sondige verworpenes gaan immers die ewige verderf tegemoet. Christus is dus nie die versoening vir die sondes van almal nie.
Tweedens is Christus ons “Voorspraak by die Vader” (2:1). En sekerlik is Hy ʼn volkome advokaat wat al sy sake wen en nooit ʼn enkele saak verloor nie! Sy voorspraak by die Vader is volkome en suksesvol en bereik altyd sy doel! Dit is presies wat die Skrif leer (Johannes 11:41-42; Romeine 8:34; Hebreërs 7:25). Francis Turretin (1623-1687) het dit só gestel: “Daar word tevergeefs veronderstel dat ʼn universele voorspraak verhoor sal word, want as Hy altyd deur die Vader verhoor word (Johannes 11:41-42), as Hy voorspraak doen vir almal, sou almal inderdaad gered word” (Institutes of Elentic Theology, vol. 2, p. 464)!
Let daarop dat 1 Johannes 2:1-2 die versoening van Christus onlosmaaklik met sy voorspraak verbind: “ons het ʼn Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is ʼn versoening vir ons sondes…” Wanneer Christus in die teenwoordigheid van die Vader verskyn om vir sy volk in te tree, doen Hy dit op grond van die verlossing wat Hy verwerf het (Romeine 8:34; Hebreërs 7:25-28; 9:24-26).
Hierdie twee dinge (versoening en voorspraak) is aspekte van Christus se priesterlike amp, want ʼn priester bring ʼn offer voor God en bid tot Hom op grond van die offer. Maar Christus tree nie vir almal in nie, soos Hy ook self uitdruklik gesê het: “Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort” (Johannes 17:9). Aangesien Christus nie vir almal bid nie, is Hy nie ʼn versoening vir almal nie.
Luister na die argument van John Owen (1616-1683): “Hierdie twee handelinge van sy priesterskap mag nie geskei word nie; om te offer en om te bid hoort by dieselfde middelaar. Ons sekerheid dat Hy ons advokaat is, is gegrond daarop dat Hy ʼn versoening vir ons sondes is. Hy is ʼn ‘advokaat’ vir almal vir wie se sondes sy bloed ʼn ‘versoening’ is (Johannes 17); Hy ‘tree in’ net vir hulle wat ‘deur Hom tot God gaan’ (Hebreërs 7:25). Hy is nie ʼn middelaar vir hulle wat verlore gaan nie, ook nie ʼn advokaat van hulle wat hulle sake verloor nie” (A Display of Armenianism, p. 91).
Watter sin sou daarin wees vir 1 Johannes om sy lesers te vertel dat Christus die toorn van God oor almal gedra het (2:2) en ʼn voorspraak is om vir almal in te tree (2:1), net om ʼn paar hoofstukke later na die onvergeeflike sonde te verwys (5:16-17). As ons nie vir diegene wat die onvergeeflike sonde begaan het, moet bid nie, waarom sou Christus vir hulle bid? Hy weet immers wie hulle is! Meer nog, die gebede van Christus word, soos ons gesien het, altyd verhoor (Johannes 11:41-42), dit is dus duidelik dat Hy nie vir hulle bid nie.
Kortom, die “hele wêreld” in 1 Johannes 2:2 verwys nie na almal, kop vir kop, nie (vgl. Romeine 1:8; Kolossense 1:6; 1 Johannes 5:19; Openbaring 12:9). Dit verwys hier na die “hele wêreld” van, in die besonder, Jode én Heidene (Johannes 11:51-52), maar ook na die wêreld van alle stamme, tale, nasies en van jonk én oud, ryk én arm, manlik én vroulik, ens.
Johannes Calvyn (1509-1564) het in sy kommentaar op 1 Johannes 2:2 gesê: “Hier kan die vraag geopper word, hoe is die sondes van die hele wêreld versoen? Ek gaan die praatjies van die fanatici verby, wat op grond hiervan by die verlossing al die verworpenes, en daarmee Satan self, insluit. Sulke gedrogtelikheid verdien nie enige teenargument nie… die doel van Johannes was niks anders nie as om hierdie guns aan die hele Kerk gemeenskaplik te maak. Met die woord ‘hele’ of ‘almal’ sluit hy dan nie die verworpenes in nie, maar verwys na hulle wat nog sal glo, ook hulle wat toe nog oor alle wêrelddele verspreid was. Die genade van Christus word waarlik duidelik soos dit hoort, wanneer dit as die enigste ware redding van die wêreld verkondig word.”
Oor hierdie standpunt van Calvyn oor 1 Johannes 2:1-2 skryf Jonathan Rainbow: “Daarmee is dit dan afgehandel. Die woorde van Johannes ‘die hele wêreld’ beteken ‘die hele kerk,’ ‘die gelowiges,’ en ‘die kinders van God.’ Soos [Martin] Bucer [1491-1551] laat Calvyn die spitsvondighede van die skolastici daar en keer terug na die eenvoudige partikularisme van Augustinus [354-430] en Gottschalk [cc. 808-867]” The Will of God and the Cross, p. 134).
So ook sê A. W. Pink (1886-1952), “… toe Johannes byvoeg ‘en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld’ het hy aangedui dat Christus ook die versoening was vir die sondes van die Heiden-gelowiges, want, soos reeds aangedui, is ‘die wêreld’ ʼn uitdrukking wat teenoor Israel staan. Hierdie uitleg word onomstootlik gegrond op versigtige vergelyking van 1 Johannes 2;2 met Johannes 11:51, 52” (The Sovereignty of God, p. 259).
So is die doel van 1 Johannes 2:2 dan om die berouvolle gelowige te vertroos met die volkomenheid van die hoëpriesterlike werk van Jesus Christus as ons “versoening” én ons “voorspraak” en vir ieder en elke van die kinders van God oor die “hele wêreld,” Jood en Heiden, naby en ver. In plaas van om te ontken dat ons sondig (1:8, 10), bely ons ons sondes sodat ons gereinig kan word (1:9) deur Christus ons versoening en voorspraak (2:1-2), sodat ons deur sy Seun in die gemeenskap van die Vader mag wees (1:3), die Lig kan ken (1:5), in gemeenskap met mekaar mag lewe (1:7) en die blydskap van God mag ontvang (1:4)!
Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik word, is die Afrikaanse Ou Vertaling (AOV) van 1933/53.