prof. Herman Hanko
Ek het ʼn brief ontvang wat twee vrae oor die kinderdoop vra—belangrike vrae wat mens by die kern van die Bybelse leer oor die doop en saligheid bring. Die eerste vraag is of die doop van kindertjies beteken (1) dat kindertjies gelowiges is of (2) dat hulle in die toekoms gelowiges sal word.
Die antwoord op die vraag is dat die Skrif en ons Gereformeerde Belydenisskrifte leer (1) dat kindertjies van gelowiges gedoop word omdat “hulle net soos die volwassenes in die verbond van God en sy gemeente ingesluit is. Ook aan hulle word nie minder as aan die volwassenes nie deur die bloed van Christus die verlossing van die sondes en die Heilige Gees, wat die geloof werk, belowe” (Heidelbergse Kategismus, V. & A. 74).
Die formulier vir die doop van kinders in die Protestant Reformed Churches leer dieselfde. Ouers word gevra of hulle bely dat “[h]oewel ons kinders in sondes ontvang en gebore en daarom aan allerhande ellende, ja, aan die verdoemenis self, onderworpe is … hulle in Christus geheilig is en daarom as lidmate van sy gemeente behoort gedoop te wees.” In die gebed van die kerk na die doop dank die heiliges God “dat U ons en ons kinders deur die bloed van U geliefde Seun Jesus Christus, al ons sondes vergewe en ons deur u Heilige Gees tot lidmate van u eniggebore Seun en daardeur tot u kinders aangeneem het en dit aan ons met die heilige doop beseël en bekragtig.” Hierdie belydenisstellings is vas gegrond op die Skrif. Ek kan in hierdie kort artikel net ‘n klein deel van die skrifbewyse gee, maar u kan die res vind in my boek, We and Our Children.
Dat God sy verbond met ons en ons kinders oprig is duidelik uit Genesis 17:7: “En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ‘n ewige verband, om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag ná jou.” Omdat die doop in die plek van die besnydenis gekom het (Kol. 2:11-12) geld die waarheid van Genesis 17:7 in die nuwe bedeling sowel as die oue.
Uit Jeremia 1:5 kan ons leer dat uitverkore kinders gewoonlik voor of by geboorte wedergebore word: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot ‘n profeet vir die nasies gemaak.” Toe Maria gekom het om Elisabet te besoek nadat sy te wete gekom het dat sy die Messias se moeder was, het Johannes die Doper, nog ongebore, opgespring in die skoot van Elisabet. Elisabet het dit deur die Gees in haar geïnterpreteer as dat Maria swanger was met Christus, en dat sy in die teenwoordigheid van Christus was. Johannes, hoewel nog ongebore, het ook van Christus se teenwoordigheid geweet en het sy bediening begin deur die koms van Christus aan te kondig deur in sy moeder se skoot op te spring. Elisabet se woorde was: “Geseënd is jy onder die vroue, en geseënd is die vrug van jou skoot! … Want kyk, toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my skoot van vreugde opgespring. En salig is sy wat geglo het, want die dinge wat deur die Here aan haar gesê is, sal vervul word” (Luk. 1:42, 44-45).
Toe Jesus die dissipels aangesê het om nie die moeders met kinders en babas in hulle arms te verhinder om na Hom te kom nie, sodat hy die babas en kinders kon seën, het die Here as rede gegee: “… want aan sulkes behoort die koninkryk van God” (Mark. 10:14). Teenstanders van die kinderdoop maak hierdie gedeelte af met die opmerking dat Jesus net bedoel het dat diegene wat die koninkryk wil inkom nederig moet word soos ʼn klein kindjie. Maar dit is onmoontlik, want Jesus verduidelik net in die volgende vers dat kindertjies die koninkryk van God “ontvang” (15), wat net deur die werk van wedergeboorte moontlik is (Joh. 3:3, 5).
Dit is die algemene reël in God se koninkryk. Ons moet natuurlik verstaan dat hierdie reël van God net van toepassing is by die kinders van gelowiges. God red ook op die sendingveld. En wanneer God red op die sendingveld, red Hy nie diegene wat tot die ewige lewe uitverkies is wanneer hulle kindertjies is nie, maar wanneer die reddende krag van die evangelie in die harte van sy uitverkorenes werk.
Desnieteenstaande red God nie net individue nie, selfs nie op die sendingveld nie. Hy red huisgesinne, met ander woorde, hy red gelowiges en hulle nageslag. Paulus sê vir die tronkbewaarder van Filippi, “Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin” (Hand. 16:31; vgl.Hand. 16:15; I Kor. 1:16).
Waarom is dit so moeilik vir iemand wat beweer ʼn Calvinis te wees en wat aandring op die absolute soewereiniteit van God in die bewerking van saligheid om te glo dat God kindertjies red? As die werk van saligheid uitsluitlik God se werk is, waarom kan Hy nie kinders sowel as volwassenes red nie? Ek vermoed dat die probleem daarby lê dat hulle wat ontken dat kinders as kinders gered word, tog maar Arminiaans wil wees; hulle wil tog maar leer dat saligheid in die finale instansie, ten minste gedeeltelik, by die mens se werke lê. Dit lyk asof so’n Arminiaanse redenasie veronderstel word teen die beskouing wat hierbo uiteengesit is, wanneer die opponente van hierdie beskouing beweer dat kindertjies nie geloof kan hê nie.
Daar is twee opmerkings wat in hierdie verband gemaak moet word. Een is dat ‘n wedergebore kindjie geloof kan hê en geloof het as kind. Hy het geloof as die band wat hom met Christus bind, alhoewel hy nie reeds ʼn bewuste geloof mag hê nie. Maar dit is selfs nie onmoontlik dat die geloof van ʼn kindjie, op ʼn kinderlike wyse, begin blyk, self voor sy geboorte, wanneer die kind beïnvloed word deur die sang en spraak van ʼn godvresende huis en die aanbidding van die kerk waarin hy gedoop is nie. Selfs ongelowige sielkundiges verwonder hulle daaraan dat ʼn pasgebore baba wanneer dit maar ure oud is die stem van sy moeder herken. Sou ʼn pasgebore kind van die verbond nie die stem van sy hemelse Vader herken nie? ʼn Stem kragtiger as wat enige aardse stem kan wees? Ons weet min van die verstand van ʼn kind.
Ons moet nog meer hieroor sê en ook ʼn tweede vraag beantwoord. Dit sal, as God wil, volgende keer wees.
(Vertaal deur Nic Grobler. [email protected], Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)